Manne, toets jou prostaat

 


Soos gepubliseer in die Parys Gazette op 12 November 2020

Novembermaand staan ook bekend as Movember omdat mans aangemoedig word om ‘n snor te groei ter bewusmaking van gesondheidsprobleme wat mans beïnvloed, soos byvoorbeeld prostaatkanker. Dr Rudolph van Wyk, ‘n gesondheidspraktisyn in Parys beskryf die prostaat as “'n klier wat net onder die blaas sit en waarvaan die funksie is om voedingstowwe aan sperms te verskaf wat deel uitmaak van die semen.”

Volgens Dr Van Wyk is prostaatkanker ‘n stadig-groeiende kanker en daarom is dit belangrik om jaarliks te toets daarvoor as jy oor 40 is. Die toets vir prostaatkanker is ‘n bloedtoets wat die vlakke van prostaat spesifieke antigeen (PSA) toets. Die prostaat is die enigste klier in die liggaam wat PSA afskei en daarom het vrouens geen PSA nie. Alhoewel ‘n rektale ondesoek dikwels saam met die bloedtoets gedoen word, is dit slegs ‘n absolute noodskaaklikheid waar daar ‘n probleem is met die urienvloei.

Wat is die simptome van prostaatkanker?

Laer urienwegsimptome soos ‘n onderbreekte urienstroom of ‘n swakker stroom, kan ‘n teken wees van prostaatkanker indien jou dokter ‘n infeksie uitgekakel het. “Benigne prostaat hiperplasie, of BPH, is waar die prostaat slegs geswel is en dit kan ook dieselfde simptome gee as prostaatkanker,” verduidelik Dr Van Wyk. “Omdat die prostaat vergroot is kan die urienbuis vernou en die blaas moet harder werk om die uriene uit te stoot. Die mediese professie noem dit die irritatiewe simptome. Wanneer ‘n man glad nie meer kan urineer nie, word dit obstuktiewe simptome genoem en dan het ons groot probleme.”

Die probleem met ‘n stadig-groeiende kanker soos prostaatkanker is dat, teen die tyd wat jy simptome het, kan die kanker reeds ver gevorder wees. Dit is hoekom dit so belangrik is om jaarliks die PSA bloedtoets te laat doen.

“Prostaatkanker het ‘n voorliefde vir die skelet,” sê Dr Van Wyk. “Daarom moet ons prostaatkanker uitskakel wanneer ‘n man, en veral ‘n bejaarde man, van rugpyn kla.”

Prostaatkanker prognose

Data wys dat een uit elke 10 mans prostaatkanker sal ontwikkel. Maar, sê Dr Van Wyk, “dit is ‘n baie behandelbare kanker.”

Indien prostaatkanker by jou vermoed word as gevolg van ‘n hoë PSA telling, sal jou dokter jou stuur vir ‘n biopsie. “Daar is drie maniere om ‘n biopsie te doen,” verduidelik Dr Van Wyk. “Trans-uretaal, trans-rektaal, en trans-perinealse biopsie. Die selle word volgense die Gleason-skaal geklassifieer volgens die aggressiwiteit vaan die kanker.”

Tipiese behandeling sluit in die verwydering van een prostaatlob, bragiterapie, en eksterne bestraling. In prostaatkanker wat reeds ver gevorder is word die testes soms verwyder waarna die man dan met sistemiese hormoonblokkers behandel word. Waar hormoonterapie vaal, word die man gewoonlik verwys vir chemoterapie. In drastiese gevalle word die hele prostaat verwyder wat ongelukkig newe-effekte soos erektiele disfunksie en die lek van uriene tot gevolg mag hê.

“Dit is hoekom vroeë diagnose van prostaatkanker so belangrik is,” sê Dr Van Wyk. “Hoe vroeer jy dit vang, hoe beter is die prognose. Meeste mans doen uitstekend met behandeling as jy dit vroeg genoeg kry.”

Jou mediese fonds betaal

Die PSA bloedtoets is ‘n jaarlikse voordeel wat jou mediese fonds sal dek as deel van die fonds se siftings- en voorkomingsvoordeel. “Soos wat jy weet wat jou bloedgroep is, moet mans weet wat hul PSA telling is,” verduidelik Dr Van Wyk.

Dit is veral belangrik as daar ‘n familiegeskiedenis is van kanker. As jou pa dit gehad het, is jou risiko hoog. As jou oupa dit gehad het, is jou risiko hoog. As jou pa en jou oupa dit gehad het, is jou risiko besonders hoog. “Maar weereens, ‘n familiegeskiedenis moet êrens begin. Daarom kan ek die noodskaaklikheid van die jaarlikse PSA nie genoeg beklemtoon nie.”

Moet dus nie ‘n kans waag of wag tot jy die simptome het nie. Kontak jou gesondheidspraktisyn vandag nog om te reël vir ‘n PSA bloedtoets. Dit kan jou lewe red.


Comments